Die Hantering van besoeke met die Biologiese Ouers

BELANGRIKE UITGAANSPUNTE VAN PLEEGSORG

Pleegsorg is ideal gesien, die tydelike versorging van ‘n kind totdat die ouers en hulle omstandighede sodanig verbeter het, dat die kind kan teruggaan na sy ouers. Selfs al kan die kind nooit weer herstel word in die ouer se sorg nie, is dit steeds die kind se reg om voortgesette kontak met sy ouers te hê. Biologiese ouers is onlosmakend deel van die kind se lewe, ongeag van die ouderdom van die kind.

In pleegsorg is daar dus altyd die driehoek van pleegkind, biologiese ouers en pleegouers en elkeen het sy eie rol en plek in die driehoek. Maar, die kind se beste belang is altyd voorop. Besoeke moet dus so gedoen word dat die kind se beste belang nagestreef word deur al die partye betrokke: biologiese ouers, pleegouers en maatskaplike werkers.

Daar moet in aggeneem word dat die kind ‘n binding met sy ouers gehad het, ongeag of die binding insekuur was en of die ouers goed genoeg in die kind se behoeftes voorsien het al dan nie. Vir die kind is dit sy eerste en primêre bindingsfigure. Dit gebeur baie selde dat ‘n kind kort na verwydering, uitgesproke is dat hy/sy nie wil teruggaan na die ouers toe nie. Vir die meeste kinders is teruggaan an die ouers ‘n groot behoefte.

Die ideal met besoeke is dat die kind by die pleegsorg en die besoeke aanpas soos wat ‘n kind in ‘n egskeidingsituasie uiteindelik aanpas. Besoeke behoort dan nie meer die kind soerg te ontwrig nie.

DIE BELANGRIKHEID VAN OUER-KIND BESOEKE

‘n Kind word getraumatiseer deur die verwydering van sy ouers af, ongeag die aard van die binding. Gereelde kontak met die ouers kan ‘n groot rol speel om die trauma te verminder en om die binding en verhouding met die ouer te behou.

Besoeke hou die volgende voordele in:

  • Die gereelde kontak tussen ouer en kind kan die trauma vir beide die ouer en die kind, baie verminder. Kinders wat min of geen kontak met hulle ouers het, wonder wat gebeur het met die ouers dat die ouers hulle nie wil of kan sien nie. Kinders is ego-sentries en daarom dink hulle dat hulle iets verkeerd gedoen het en daarom wil die ouers hulle nie meer sien nie. Hulle beleef gevoelens van verwerping deur die ouers, wat die trauma van die verwydering vererger.
  • Die kind se gevoelens van rou en verliesword verminder deur gereelde kontak. Die wete dat hy sy ouers weer gaan sien, gee vir die kind sekuriteit en rustigheid dat die ouers nog daar is en nie van hom vergeet het nie, en dat hy hulle nie verloor het nie.
  • Die ouer-kindverhouding word in stand gehou deur gereelde besoeke. Dit bied ook die geleentheid vir die verbetering, die herstel en die ontwikkeling van die verhouding in ‘n meer sekure verhouding. Die verhouding met die pleegouers is ‘n bykomende verhouding en nie ‘n plaasvervanger vir die biologiese ouers se verhouding met die kind nie.
  • Besoeke hou die kind in die realiteit van wie die ouers is en hoe hulle is.Dit voorkom dat die kind fantaseer oor die ouers en onrealistiese beelde oor die ouers opbou in ‘n poging om die ouers “lewendig” in sy herinneringe te hou.
  • Besoeke bied ook ‘n geleentheid waar die rede vir die verwydering weer deurgewerk kan word, wat kan bydra tot die kind se begrip en berusting by die verwydering.
  • Navorsing het ook getoon dat kinderswat hulle ouers gereeld sien, beter aanpas in die pleegsorg en minder gedragsprobleme ontwikkel, as kinders wat ongereelde of geen besoeke het nie.
  • Indien daar gereelde besoeke is, is die moontlikheid vir suksesvolle terugplasing van ‘n kind by sy ouers ook hoër. Die maatskaplike werker kan die besoeke gebruik om ouerleiding te doen, die ouer-kindverhouding te versterk en probleme aan te spreek.

BELANGRIKE ASPEKTE RONDOM BESOEKE

Gereeldheid van besoeke: Besoeke behoort so gereeld plaas te vind as wat nodig is om die ouer-kindverhouding in stand te hou. Dit is ten minste elke twee weke. Navorsing in die VSA toon dat kinders wat elke week of elke twee weke besoek, in die langtermyn, beter aanpas in die pleegsorg. Dit stem ooreen met navorsing oor kinders se aanpassing in egskeidingsituasies.

Die pleegsorgprogramme in die VSA en Engeland doen die eerste besoek na verwydering, binne 48 uur en laat nie meer die 6 weke aanpassingsperiode toe nie. Die rede hiervoor is dat die verdwyning van ouers vir so ‘n lang tydperk die kind traumatiseer en die verhouding ernstige skade aandoen. Onmiddelike instel van gereelde besoeke, verminder die kind se trauma, verkort die rou, werk verlies- en verwerpinggevoelens teen en skep ‘n geleentheid vir meer gesonde uiting gee aan die pyn oor die verwydering.

Die duur van die besoeke: Besoeke moet die moeite werd wees. ‘n Aanbevole tydsduur is twee ure. ‘n Uur is te kort vir ouer en kind wat mekaar net elke twee weke of een keer ‘n maand sien, om die verhouding in stand te hou.

Die plek van die besoeke:  Besoeke behoort op dieselfde plek gehou te word. Dit gee bekendheid en voorspelbaarheid vir die kind. Die plek moet privaat en aangenaam wees. Daar moet speelgoed en ruimte vir speel wees. ‘n Besoek in ‘n openbare plek soos Spur, word nie regtig aanbeveel nie, omdat daar nie privaatheid is nie, maar dit kan soms gedoen word as ‘n spesiale uitstappie.

Teenwoordigheid van die pleegouers: Of die pleegouers teenwoordig moetwees, al dan nie, moet deur die kind se behoefte bepaal word. As dit vir die kind meer sekuriteit bied, veral as daar vir lank nie kontak was nie, of die kind is klein en die primêre binding is met die pleegouer, dan moet die pleegouer teenwoordig wees en betrokke wees in die besoek.

DIE KIND SE GEDRAG EN EMOSIES VOOR, TYDENS EN NA BESOEKE

Pleegkinders toon verskillende emosies voor, tydens en na besoeke. Ons weet nie altyd hoe om die emosies en gedrag te intepreteer nie en daarom ook nie altyd hoe om dit te hanteer nie. Die kinders kan dikwels self nie verwoord hoe hulle voel nie.

Emosies voor besoeke

  • Angstigheid: Kinders kan voor die besoek, of as hulle oud genoeg is om te weet dis amper besoek tyd, angstigheid oor die besoek toon. Dit kan tot uiting kom in nagmerries, slaapversteurings, bednatmaak, huilerigheid, psigo-somatiese simptome, probleemgedrag, ens. Baie van die angstigheid het te doen met onsekerheid oor die besoek, hoe dit gaan afloop, hoe die ouers gaan optree, of vorige negatiewe insidente weer gaan plaasvind, gaan die ouers opdaag, gaan hulle uitgevra word, ens. Hierdie simptome kom veral voor as die besoeke ver uitmekaar en/of ongereeld plaasvind en behoort minder te wees as daar gereelde besoeke is.
  • Trauma herinneringe: Kinders wat erge getraumatiseer is en post traumatiese stress versteuring het, se angs is meer akuut en die komende besoek kan lei tot trauma herinneringe, terugflitse en nagmerries. As dit die geval is het die kind terapie nodig en moet die pleegsorgwerker in kennis gestel word sodat terapie gereël kan word en oor verdere besoeke besin kan word.
  • Opgewondenheid kan ook angstigheid veroorsaak omdat dit ‘n gevoel van groot afwagting skep wat die kind kan angstig maak.

Emosies tydens die besoek

Daar is ongelukkig nooit ‘n waarborg dat ‘n besoek goed gaan verloop nie. Situasies kan opduik, biologiese ouers kan op onverwagte en onaanvaarbare wyses optree wat die besoek negatief beïnvloed en die kind ontstel. Kinders beleef ‘n warboel van emosies met besoeke wat kan wissel van angstigheid, opgewondenheid, vrees, teleurstelling, hartseer, ens. afhangende van wat tussen die ouer en kind gebeur. Die pleegouer het min beheer oor die situasie. By besoeke wat onder toesig plaasvind, is die maatskaplike werker daar om die situasies te hanteer, die effek op die kind te verminder en die kind se emosies op te vang.

‘n Gevoel wat pleegkinders dikwels mee worstel tydens die besoek, is ‘n lojaliteitsbotsing. Hulle voel verward oor waar hulle lojaliteit moet lê, by die ouer of by die pleegouer. Dit word vererger as die ouers die kinders uitvrae, raas omdat hulle vir die pleegouers mamma en pappa sê, die pleegouers kritiseer voor die kinders, ens.

Emosies na die besoek

Kinders toon dikwels emosionele en gedragsprobleme na besoeke, soos nagmerries en slaapversteurings, bednatmaak, huilerigheid, hartseer, woede, ambivalensie, onttrekking van en ignorering van die pleegouers, angstigheid, uitreagerende gedrag, terugval na vroeëre onaanvaarbare gedrag, regressie, ens.

Hierdie emosies en gedrag is nie noodwendig omdat die besoeke negatief is vir die kind of omdat iets sleg gebeur het tydens die besoeke nie.Die gevoelens en gedrag kan ook wees omdat hulle na die besoek intens verlang en weer die verlies voel en weer deur gevoelens van rou gaan. Dit is moeilik om te weet waarom daar gedragsprobleme is en die pleegouer se sensitiewe hantering daarvan en kommunikasie daaroor, kan die oorsaak van die gedrag kry en dan die kind daarmee help. Hulpmiddels vir ontlonting kan gebruik word, soos spel, tekeninge, rollespel en heroep van die lekker herinneringe in storie vorm.

Weereens word daar gevind dat kinders wat ten minste elke tweede week besoek, gouer aanpas by die pleegsorg en die besoeke en dan is daar ‘n afname in die probleme na die besoek.

DIE PLEEGOUER SE ROL IN BESOEKE

Die pleegouer het ‘n besondere belangrike rol in die besoeke. Die pleegouers se houding, gevoelens en gedrag ten op sigte van die besoeke, speel ‘n belangrike rol in hoe die kind die besoeke gaan benader en beleef.

Die pleegouer se rol voor besoeke

Pleegouers moet opgelei word om te besef dat besoeke belangrik is vir die kind en dat hulle ‘n belangrike rol in die sukses van die besoeke speel. Besoeke is ontwrigtend en verg opoffering van die pleegouers om dit in te pas in hulle program en om die kind se emosionele reaksie en uitreagerende gedrag na die besoeke te hanteer, is veeleisend en uitputtend. Pleegouers moet dusweet waarvoor hulle hulle inlaat vóór die plasing van ‘n kind. ‘n Pleegouer kan nie sonder baie goeie rede weier dat ‘n kind se ouers sien nie.

Riglyne om besoeke suksesvol te maak

Voorbereiding vir die besoek:

  • Maak die nodige aanpassings in jou gesin en almal se houding om die besoeke te kan akkommodeer.
  • Maak vir die kind ‘n kalender wat die besoeke aandui as dit ‘n ouer kind is wat tydsbegrip het en die ouers betroubaar is dat hulle wel sal opdaag.   Dit bring baie sekuriteit vir die kind as hy weet wanneer hy weer sy ouers sien.
  • Kleiner kinders moet die dag voor die tyd voorberei word vir die besoek. Die voorbereiding vir die besoek kan gedoen word deur middel van ‘n boekie wat vir die kind geteken word, oor hoe dit gaan werk en wat daar gaan gebeur. Die klem moet gelê word op die feit dat dit net ‘n kuier is en dat die kind nie teruggaan saam met die ouers nie, maar saam met die pleegouers. So weet die kind wat om te verwag en kan homself voorberei om die tyd te geniet, maar weer te moet groet.  As die kind angstig is om te skei van die pleegouer, gee dit vir die kind die gemoedsrus dat sy ouers hom nie kan vat nie.
  • Ouer kinders kan voorberei word deur te besluit watter nuus hulle het om oor te dra, watter skoolboeke of toetse hulle mee wil spog, wat hulle wil saamvat om te wys of mee te speel, ens.
  • ‘n Spesiale voor-besoek ritueel werk ook goed, bv soos om klere te kies, die hare mooi te maak,ens.
  • Gee ekstra emosionele ondersteuning voor die besoek. Praat met die kind oor sy gevoelens. Gee die kind “toestemming” om uit te sien en dit te gaan geniet. Gee die nodige versekering dat niks gaan verander nie, dis net ‘n kuieras die kind angstig en onseker is. Speel die kuier deur met die kind, hy is bv die ouer en jy is hy, of hy is die maatskaplike werker en jy is die ouers, ens.

Hantering van die besoek

Die pleegouers se houding en gedrag tydens die besoek speel ‘n belangrike rol. Die pleegouers is die ouers met die beter vaardighede en moet as voorbeeld vir die ouers kan optree. Moenie die ouers as bedreiging sien nie, maar probeer jou in hulle skoene plaas en dink hoe dit vir hulle moet voel om hulle kinders te besoek wat nou by die “perfekte mense” bly, terwyl hulle nie goed genoeg was nie. Al was die ouers nie goeie ouers nie, beteken dit nie dat hulle nie gevoelens het nie.

Probeer ‘n verhouding bou met die ouers, nie ‘n vriendskap nie, maar ‘n goeie werkbare verhouding in die beste belang van die kind. As die kind sien dat sy twee stelle ouers oor die weg kom, maak dit dit soveel makliker vir die kind. Moenie enige iets wat die ouers sê of as hulle kritiseer,  persoonlik opneem nie. Sien dit as die ouer se poging om nog te voel dit is hulle kind, om te probeer bewys dat hulle nie so sleg is nie, om hulle eie gevoelens van minderwaardigheid te verminder en om ‘n rol te speel in die situasie.

Wees vriendelik en warm teenoor die ouers ter wille van die kind en moeniein konflik of argumente met die ouers betrokke raak nie. Gee hulle erkenning vir hulle oulike kind en deel inligting oor die kind met hulle.Probeer empatie met hulle ontwikkel, want dit sal help om ‘n verhouding met hulle te bou, ter wille van die kind.

Moedig die kind aan om met die ouer te praat en te speel, maar gee ‘n drukkie of laat die kind op jou skoot sit as die kind dit nodig het.

Maak seker dat die kind die ouer mooi groet met die koms en die afskeid.

Hou jou negatiewe gevoelens oor die ouers vir jouself. Verduidelik na die besoek vir die kind dat die ouers keuses maak wat nie altyd goed uitwerk nie, soos om vir die kinders goed te belowe of te jok. Verduidelik dat die ouers dit graag sou wou doen, maar te skaam of te hartseer is om te sê dat hulle nie regtig kan nie.

Hantering van die kind na die besoek

Na ‘n besoek sal dit baie help as die kind oor die besoek kan praat. ‘n Tipe van ‘n ontlonting (debriefing) werk goed. Gesels met die kind oor dinge wat daar gebeur het, wat die ouers vertel het, hoe mooi die mamma gelyk het, wat hulle gespeel het, ens. Maak ook seker dat jy oor die negatiewe aspekte praat en die kind leer om sy gevoelens oor die negatiewe aspekte te lig, bv sy teleurstelling toe die ouer nie veel gesê het oor die mooi skoolboeke nie, die beloftes wat nie nagekom is nie, die raas wat hy gekry het, ens.

Leer die kind om oor sy emosies na die besoek te praat: die hartseer om te groet, die verlange, die kwaad, die teleursteling, die verligting, ens. As die kind sy emosies oor die besoek kan deel, hoef hy nie met soveel emosionele en gedragsprobleme te reageer nie. Wees baie sensitief vir die kind se emosies. Indien ‘n kind nie wil praat nie, maak net op ‘n sagte en liefdevolle wyse opmerkings oor sy gedrag, bv. ek sien jy is baie stil, is dit vir jou hartseer om mamma te groet, is jy bekommerd oor mamma, verlang jy nou meer, ens. Sê vir die kind dat jy verstaan hoe moeilik dit is om sy ouers net vir ‘n klein rukkie te sien. Dit is so belangrik dat die kind moet weet dat hy sy emosies oor sy ouers met die pleegouer kan bespreek, sonder dat die pleegouers bedreig sal word daardeur.

Gee vir kind, as dit moontlik is, die volgende datum vir die besoek, of hoeveel slapies dit is tot die volgende besoek.

Spandeer meer tyd met die kind en gee meer versorging en vertroeteling. Doen dit na elke besoek, maar meer indien die besoek nie so goed afgeloop het nie.

Onthou dat as ‘n kind negatief reageer na besoeke, dat meer besoeke die situasie kan verbeter. Dit moet egter saam met die maatskaplike werker bespreek en beplan word.

As besoeke gekanselleer word

In die praktyk gebeur dit ongelukkig dat die ouers besoeke kanselleer, of net nie opdaag nie. Dit is baie negatief vir die kind, wat as gevolg van sy egosentriese funksionering, dit as verwerping beleef of as sy skuld sien. Die pleegouers moet aan die kind verduidelik dat dit niks met hom te doen het nie, maar dat dit die ouers is wat ‘n keuse gemaak het om oor watter rede ook al, nie op te daag nie en nie te laat weet nie of om te kanselleer nie. Verseker die kind dat hy niks verkeerd gedoen het nie, dat dit nie sy skuld is nie en dat hulle nog vir hom lief is, maar dat iets verkeerd geloop het by die ouers.

Gee eksta aandag aan die kind, asook ekstra versorging en vertroeteling.

As die ouers ‘n gewoonte daarvan maak om nie op te daag nie, moet die maatskaplike werker dit hanteer. ‘n Reëling moet dan getref word dat die kind nie ingelig, voorberei of geneem word vir die besoek, voordat die ouer nie opgedaag het by die besoekpunt nie.

DIE STAAK OF WEIERING VAN BESOEKE

Die maatskaplike werker kan besoeke opskort of afskaf indien dit werklik nie in die kind se beste belang is nie. Die volgende gedrag, rondom besoeke, kan aanleiding gee daartoe:

  • ‘n Kind wat na die besoeke in trauma verkeer, bv intense angs, trauma herinneringe, selfbesering doen, vrees toon vir die ouer, regressie toon vir paar dae, skeidingsangs beleef, ens.
  • ‘n Kind wat na besoeke seksueel uitreagerende gedrag toon wat nie andersins voorkom nie.
  • ‘n Kind wat vir dae lank ontwrig is, ten spyte van die pleegouers se voorbereiding en ontlonting.
  • ‘n Kind wat weier om die ouer te sien.

Volledige terugvoer moet aan die maatskaplike werker gegee word sodat sy kan optree om besoeke, wat nie in die kind se beste belang is nie, te hanteer.

TEN SLOTTE

 Pleegouers moet onthou dat hulle die vennote van die Welsynsisteem is. Hulle moet gemaklik voel om enige bekommernis oor besoeke met die betrokke maatskaplike werker te bespreek. Dit is hulle verantwoordelikheid om die probleme met die biologiese ouers op te neem en te hanteer, soos byvoorbeeld as die ouers beloftes maak, of jok vir die kind. Dit is ook die maatskaplike werker se taak om saam met die pleegouer te besin of die besoeke in die beste belang van die kind is.

* Magriet van Schalkwyk   Social Worker in Private Practice ~ Trauma counsellor

6 Responses to Die Hantering van besoeke met die Biologiese Ouers

  1. Corrie Nienaber says:

    Ons het 2 sussies wat al 6 maande by ons in pleegsorg is, eers was daar besoeke onder toesig met die pa, die ouers is vervreem van mekaar en bly in verskillende dorpe, en toe is daar deur die maatskaplike werker besluit dat die pa die kinders mag sien sonder toesig en dat die kinders by die pa vir n naweek ook mag gaan kuier, wanneer die kinders dan weer terug by ons is, is die oudste enetjie dan baie moeilik veral in die nag en wanneer ons hul vra hoe hulle naweek by die ouer was kom daar soms stories uit wat n onrusbarend is veral oor wat in die ouer huis angegaan het en die rede hoekom die kinders weg geneem is, as ons dan vir die maatskaplike werker vertel wat die kinders gese het voel dit asoo sy ons woord in twyfel trek, daar is n hofbevel wat se dat die ouer die kinders net onder toesig mag sien, ons vertrou nie meer die maatskaplike werker nie, sy reageer nie op enige e-posse of whatsapp boodskappe van ons nie en sy weier om enige oproepe na ure te antwoord. Ons het nou in verbinding met n ander persoon gekom wat ons meer inligting gegee het oor die wetlike prosedures wat die maatskaplike werker aan ons as pleegouers moes verduidelik het en van daai prosedures het sy vesuim om vir ons te verduidelik. iewers is daar n slang in die gras. Wat ons uitgevind het en nie geweet het nie is dat sy nie mag toelaat dat die pa die kinders sonder toesig mag sien of mag kry vir n naweek nie, hoe kan die maatskaplike werker dan eers na die pa die kinders al op verskeie kere sonder toesig gesien het vir ons laat weet dat daar n nuwe hofbevel is wat die pa toestemming gee om die kinders sonder toesig te kry vir n naweek, was ons as pleegouers nie veronderstel om saam by die kinderhof te wees toe die “nuwe” hofbevel uitgereik is nie, dis nou al amper 3 weke later en nogsteeds het ons as pleegouers nog nie die hofbevel ontvang nie wat ons laat twyfel of daar ooit so n hofbevel is. wat staan ons te doen as pleegouers.

  2. Jay says:

    My dogtertjie is tans by my my maar sy is in my suster se sorg, sy weet ek is haar mamma sy bly nou al amper ‘n maand by my en my suster het my laat weet sy gaan haar die einde van die maand kom haal weer, ek is moeg dat my kind se lewe so ontwrig word aangesien my suster tans werkloos is en ‘n kind van ‘n maand oud het, my suster bly by my ma’le omdat sy ook nie woonplek van haar eie het nie. Wat staan my te doen ek is regtig raadop? Help ASB!!!!!!!!!!

  3. Wonderlike en uiters belangrike inligting die vir pleeg-ouers.Baie dankie.Is daar n manier hoe ek hierdie inligting kan download van die internet ? Baie dankie

    • Deur watter instanie pleeg julle? Kan julle enigsings Pretoria toe kom vir gratis indiepte Pleegouer Opleiding? Tydens die opleiding kan julle die Pleegouer Hanleiding bekom, wat die, en nog baie ander uiters belangrike pleegouer inligting, soos bv. die effek van trauma op kinders en hoe om hul Limbisie sisteem te help kalmeer, sodat hulle met pleegouers kan begin bind, bevat. En nog baie meer.

  4. sonia says:

    Hi! Ek en my kinders se pa is nie getroud nie ons was 2 jaar uit mekaar, hyt my dogtertjies by my gevat sonder n hofbevel en hul vir my tannie gegee wat glo eks n slegte ma net om dat ek n din kombersie gebruik het vir n spoeg doek en dinge nie gedoen het volgens haar sin nie, edis nou al amper n jaar wat my kinders by haar is mar sy weier dat ek my kinders sien of vir hul kuier, vandat hulle by haar is het ek nog nie 1 keer gan kuier nie omdat sy elke keer n verskoning het, ek het tot dusver nog nie n hof bevel of enige dokumente gekry van die hof af of die maatskaplike werkster nie volgens hulle is daar n saak ge open by die kinder hof,
    Wat kan ek doen om my kinders weer in my arms te he? Niemand wil my help nie!

    • As jy vir jou kinder terug wil kry, sal jy geduldig moet wees as jy van die gratis regshulp van die Gesins Advokaat wil gebruik maak! (As jy ‘n privaat advokaat kan bekostig kan dinge baie vinniger verloop). Kontak hulle asseblief dringende en maak ‘n afspraak om hulle te gaan sien, of gaan soontoe en maak self ‘n afspraak. Hulle sal jou jou saak dan ondersoek en reg laat geskied. Hier is hulle kontak besonderhede:

      Pretoria – GP; Adv C. Maree (Senior Family Advocate); Tel: 012 323 0760, Fax:012 323 9566; E-mail:Pretoria-FA@justice.gov.za; Postal Address: Private Bag X 8, Pretoria, 0001; Physical Address: 4th Floor, Die Meent Building, c/o Andries & Pretorius Streets

      BAIE sterkte en mag G_d se wil in jou en jou dogtertjie se lewens geskied.

Leave a Comment /or Share your Foster Care experience