Dis Kritiek om Binding te bewerk met jou Veiligheids- Pleegsorg Kind!

Die Effek van Mishandeling en Verwaarlosing op die Binding en Ontwikkeling van die Veiligheids- Pleeg Kind

‘n Sielkundige, Erik Erikson, het die menslike ontwikkelingsproses van geboorte tot die dood in agt basiese stadiums verdeel.  Gedurende elke stadium is daar spesifieke take wat bemeester moet word.  Konflik tussen kwaliteite vir normale en gesonde ontwikkeling en dié wat met abnormale en ongesonde ontwikkeling te make het kan ontstaan.  By die meeste kinders is die gesonde kwaliteite sterker en kan hulle normaalweg deur elke stadium beweeg, maar sommige kinders word a.g.v. hulle lewenservaringe verhoed om van die een stadium na ‘n volgende te beweeg op die bestemde kronologiese ouderdom.  Geen stadium kan oorgeslaan word nie.

‘n Kind kan op ‘n spesifieke stadium by vassteek en sy behoeftes kan dié van ‘n jonger kind wees.  Dit word regressie genoem wanneer  ‘n kind van 6 jaar soos ‘n jonger kind (van 3 jaar) op ‘n spesifieke situasie reageer.   Erkison glo dat die effek van negatiewe ervarings herstel en omgekeer kan word indien ‘n nuwe en positiewe omgewing daargestel kan word.  Dit is van uiterste belang by kinders wat in Pleegsorg geplaas word.  Die eerste 5 stadiums van Erikson is gemoeid met die kinderjare en die laaste 3 stadiums met volwassenheid.  Slegs die eerste 5 stadiums sal vervolgens bespreek word.

Ontwikkelingsfases

Fase 1: Vertroue vs Wantroue (0-1 jaar)

‘n Gevoel van vertroue ontwikkel uit die baba se verhouding met sy ouers – veral sy moeder wat meestal die primêre versorging waarneem.  ‘n Baba leer om ander te vertrou indien daar in sy fisiese en emosieonele behoeftes voorsien word.  Dit behels bv. Dat hy gevoed word indien hy honger is en hy liggaamlike kontak en warmte van ‘n liefdevolle ouer ervaar.  Die baba glo dan dat die wêreld en die mense rondom hom betroubaar is en dit word die grondslag (of eerste boublok) waar hy ook positiewe gevoelens oor himself koester.  Die warmte van die ouer-kind verhouding stel die kind in staat om frustrasies en angs te verdra.

Wanvertoue ontwikkel indien:

Die baba se basiese behoeftes aan versorging en vertroeteling nie bevredig word nie.  ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n baba wat lank gehospitaliseer word of in ‘n inrigting geplaas word sonder menslike kontak of stimulasie.

  • ‘n Kand wat verlies ervaar wanneer hy van sy ouers geskei word
  • ‘n Kind wat sy ouers assosieer met negatiewe gevoelens soos pyn
  • ‘n Kind wat in die pre-verbale fase getraumatiseer word deur fisiese, emosionele en seksuele mishandeling

As daar nie in die baba se behoeftes voorsien word nie, ervaar hy die wêreld as ‘n plek vol pyn, frustrasie en onsekerhede.  Die baba het geen besef van tyd nie en die pynlike gevoelens skyn vir ewig te wees sonder ‘n verwagting dat dit tot ‘n einde sal kom.

Die volgende problem wat by kinders voorkom kan moontlik met wantroue verband hou, naamlik:

  • Hulle kan weier om te eet
  • Spysverteringsprobleme
  • ‘n Leë kyk in die oë
  • Geen of min emosie
  • Waaksaamheid
  • Slaapprobleme
  • Nagmerries of “Night terrors”

Nie al die gevoelens en gedrag is altyd teenwoordig nie.  Dit verskil van individu to individu en hang af hoe pynlik die ervarings was.

Fase 2:  Selfstandigheid vs Skaamte en Twyfel (1-3 jaar)

Gedurende hierdie fase ontwikkel die kind ‘n verstand en wil van sy eie, en leer hy hoe om dinge vir himself te doen.  Dit is tot sy voordeel indien die ouers hom toelaat om ‘n seker mate van vrye keuses uit te oefen.  Terselfdertyd word ‘n mate van selfbeheersing aangeleer.  Die kind wat selfstandigheid ontwikkel leer om meer beheer oor sy lewe uit te oefen en ontwikkel ‘n gevoel van selfvertoue in sy vermoë om keuses te maak.

Skaamte en Twyfel ontwikkel wanneer:

  • Geen aanmoediging ontvang word vir pogings tot onafhanklikheid nie
  • Daar nie in die kind se emosionele behoeftes voorsien word nie
  • Die kind se onafhanklike optreding beperk word en sy pogings gereeld op mislukkings uitloop.
  • Ouers te streng is en oormatig straf vir geringe oortredinge
  • Ouers nie die kind teen seerkry beskerm nie of selfs die kind beseer

Hierdie kind kan intense gevoelens van angs, wanhoop en depressie ervaar.  Hy kan ook ‘n gevoel van verlatenheid en verlies aan vertroue in himself en andere beleef.

Die volgende problem kan by kinders vorkom wat skaamte en twyfel ervaar, naamlik:

  • Die kind kan agteraf poog om met iets weg te kom as niemand kyk nie
  • Aan die anderkant kan gesag openlik uitgedaag word
  • Die kind mag voorkom asof hy onbesorg of onbewus is van wat ander van hom dink
  • Hierdie kind wil in beheer wees en raak ontsteld as hy nie volwassenes kan beheer nie
  • Die kind kan ook bedreig en onveilig voel as alles nie volgens ‘n vaste patroon verloop nie
  • Woedebuie kan meer gereëld voorkom en die kind kan beleef dat hy ‘in stukke’ val. (Dit kan help om die kind ferm maar liefdevol vas te hou en hom gerus te stel)
  • Dit is ook algemeen dat kinders tydens hierdie fase regresseer

Fase 3: Inisiatief vs Skulk (3-5 jaar)

Inisiatief spruit voort uit ‘n gewillingheid om dinge te probeer en die selfvertoue om kanse te waag.  ‘n Kind wat inisiatief ontwikkel kan teen die ouderdom van 4 jaar voel dat die wêrld inherent ‘n goeie plek is.  Modellering van volwassenes se gedrag kom voor en die kind wil graag soos sy ouers wees.  Gevoelens van jaloesie en wedywering met sy broers en susters (of portuurgroep) is normaal.  Dit is ook die fase waar die verbeelding en fantasie ontwikkel en hy kan dikwels nie tussen fantasie en die werklikheid onderskei nie.  ‘n Gewete begin ook ontwikkel.  Gedurende hierdie periode is die kind baie skeppend.  Die kind begin ook nuuskierig raak oor seksuele aangeleenthede.

Skuld ontwikkel wanneer:

  • Die kind negatiewe belewenisse a.g.v. verwaarlosing, oordrewe straf, skeiding, ens. ervaar het.
  • Kinder se normale ontwikkeling verkeerd hanteer word en kinders skuldig voel oor bv. woede en aggressie & seksuele nuuskierigheid
  • Uitermatige straf lei tot uitermatige skuldgevoelens as daar verwag word dat die kind goed of soet moet wees.  Dit veroorsaak dat kinders nie lus is om nuwe dinge aan te leer nie
  • ‘n Kind vanuit ‘n gelukkige en stabiele huis kan ook vrese ontwikkel , maar die getraumatiseerde kind sal veral sensitief wees vir vreesaanjaande situasies.

Die volgende probleme kan by kinders voorkom wat skuld ontwikkel het, naamlik:

  • Langdurige angs
  • Verwarring oor wat hy mag en nie mag doen nie
  • Verbreking van toilet roetine deur enurese en enkoprese
  • Vermoë tot kommunikasie neem af en die kind kan begin hakkel of stotter
  • Onvermoë om te speel.  Geen verbeeldingspel is aanwesig nie.  Die ontwikkeling van ‘n gewete word vertraag

Fase 4:  Werkywer vs Minderwaardigheid (6-12 jaar)

Die volgende groot taak vir die kind is om werkywer en produktiwiteit aan te leer.  Die kind moet aanpas in ‘n wêreld waar lees, skryf en samewerking met ander belangrik is.  ‘n Kind wat tot dusver positief ontwikkel het, wil graag leer en opdragte goed voltooi.

‘n Dieper bewussyn van reg en verkeerd ontwikkel ook deur na die ouers as rolmodelle te kyk.  Die vader figuur is veral belangrik.  Die seuns idealiseer hul vaders en die dogters hou hom ook as model voor.  Gedurende hierdie fase word die kind ook van ander se gevoelens bewus.

Kenmerke van minderwaardigheid:

  • Die kind voel ontoereikend aangesien hy nie die nodige vaardighede aangeleer het nie.  Leerprobleme kan ontstaan
  • Die kind kan ook ander doelbewus seermaak om sy eie tekorkominge te verberg
  • A.g.v. sy negatiewe beeld oor homself ag hy homself of ander nie van waarde nie.  Hy is ook nie in staat om ander of sy eie besittings te waardeer nie.
  • Regressie na ‘n vroeë stadium waar hy veilig gevoel het, kom algemeen voor.  Voorbeelde hiervan is: duimsuig, woede uitbarstings en huilerigheid
  • Angs manifesteer in woede uitbarstings, diefstal en leuns
  • Die kind is bang vir verwerping en verwerp dikwels die mense naaste aan hom voor hulle dit aan hom kan doen
  • Die kind sukkel om sy emosies te verbaliseer.

Fase 5: Identiteit vs Rolverwarring (12-18 jaar)

Die adolessensie word gesien as ‘n tyd waarin die vorige aangeleerdhede van al die fases (1-4) weer ter sprake kom en opgelos moet word.  Indien vorige take soos vertroue nie by die kind gevestig is nie, is hierdie stadium vir die adolessent meer problematies.  In hierdie fase probeer die adolessent sy eie identiteit ontdek.  Vrae soos “Wie is ek en waarheen is ek oppad” moet beantwoord word.  Dit is ook vir die kind belangrik om te weet dat hy aanvaarbaar is.  Die fisiese veranderinge van die jong persoon se liggaam het ook ‘n beduidende uitwerking op sy algemene gedrag.  Die kind wat in ‘n gelukkige en stabiele huis groot geword het, kan makliker hierdie probleme die hoof bied.

Tipiese gedrag wat op rolverwarring dui:

  • A-sosiale neigings.  Die kind onttrek hom van gesinsaktiwiteite en die portuurgroep speel ‘n groter rol
  • Weier om te werk
  • Kom rusteloos voor en is verveeld
  • Rebelsheid en in konflik met almal
  • Dagdromery help die kind om van probleme te ontsnap
  • Angstige gevoelens mag tot gevolg hê dat die adolessent met drank en dwelms eksperimenteer
  • ‘n Verhoogde emosionaliteit ontstaan en die adolessent is voortdurend in konflik met homself
  • Die adolessent kan probleme met sy seksualiteit ondervind wat kan wissel van geïnhibeerdheid to promiskuïteit.

DIE EFFEK VAN MISHANDELING EN VERWAARLOSING OP DIE BINDINGSPROSES

Binding is die liefdevolle band tussen twee individue wat bestaan deur tyd en ruimte en wat hulle emosioneel aan mekaar bind.  Dit is belangrik dat ‘n kind ‘n binding met die volwassenes in sy lewe vorm want dit:

  • Gee hom vertoue in ander en homself
  • Lê die fondasie vir die kind se ontwikkeling op alle vlakke van sy lewe
  • Help hom om sy vrese en angs te hanteer
  • Verminder negatiewe gevoelens soos jaloesie.

Bindingprobleme ontstaan wanneer ‘n kind:

  • Nog nooit ‘n binding gevorm het nie.  Redes hiervoor kan wees dat hy in ‘n hospitaal of inrigting was of van een versorgingsposisie na ‘n volgende rondbeweeg is
  • Die binding verbreek is as gevolg van die ouers se dood of die verwydering vanuit die ouers se sorg
  • Vanweë gebrekkige binding met ouers

Daar word tussen verskillende tipes bindings onderskei:

1.  Geen binding of “Attachment Disorder”

Kenmerke:

  • Oppervlakkige, “charming” gedrag is aanwesig.  Kinders is óf stroopsoet óf baie stout
  • Ongediskrimineerde affeksie kom voor en die kind sal maklik vir vreemde mense vra om saam met hulle huis toe te gaan
  • Kinders toon affeksie op hul terme – gewoonlik manipulerende gedrag wanneer hulle iets van die volwassene wil hê
  • Kinders kan baie veeleisend (klouerig) wees
  • Maak nie maklik oogkontak nie behalwe as hulle leuens vertel
  • Vertel leuens wanneer daar nie werklik rede daarvoor is nie (“crazy lying”). Rede darvoor is dat hulle mense probeer manipuleer en simpatie probeer wek vir hul gedrag
  • Is destruktief – breek speelgoed of verloor besittings.  Heg nie waarde aan besittings nie
  • Diefstal kan ook voorkom
  • Het geen impuls kontrole nie
  • “Accident prone”
  • Abnormale eetpatrone – ooreet, selektiewe eters, anorexia of bulimie
  • Ontwikkelingsagterstande kan voorkom – skolastiese onderpresteer hulle maar kan oor ‘n hoë intellek beskik.  Het soms abnormale spraak-patrone
  • Sukkel om verhoudings met maats of vriende in stand te hou
  • Hulle sukkel ook om oorsaak en gevolg te verstaan
  • Gewete het nie ontwikkel nie.  Beleef ook nie skaamte of ongemak indien hulle iets verkeerd doen nie
  • Wreedheid teenoor diere kan voorkom
  • Gepreokkupeerd met vuur – brandstigting kan voorkom
  • Anti-sosiale persoonlikheidsversteuring kan voorkom

 2.  Angstige binding:

Kenmerke: 

  • Die kind raak te vinnig onafhanklik en onderdruk sy afhanklikheids-behoeftes
  • Die kind ignoreer sy ouer met hereniging
  • Toon skeidingsangs
  • Idealiseer sy ouer en ontken al sy ouer se foute
  • Die kind word die “parental-child” en versorg die ouer
  • Hy poog om sy eie emosionele behoeftes te bevredig deur ander te versorg.

Die ouers se optrede:

  • Die ouer reageer nie op sy kind se behoeftes nie
  • Die kind se behoefte na vertroeteling word ontmoedig
  • Die kind word verwerp
  • Die ouer straf die kind se afhanklikheidsbehoeftes

 3.  Angstige ambivalente binding:

Kenmerke:

  • Die kind vertou die ouer
  • Hy voel egter ambivalent teenoor die ouer
  • Hy toon woede en aggressie teenoor volwassenes in sy lewe
  • Die kind kan die ouers manipuleer
  • Die kind het ‘n behoefte aan die ouer se nabyheid en erkenning
  • Die kind soek die ouer se aandag
  • Die kind probeer om ‘n reaksie by ‘n ouer uit te lok
  • Die kind kan die ouer verwerp

Die ouer se optrede:

  • Die ouer is inkonsekwent
  • Die ouer verwar sy eie behoeftes met sy kind s’n
  • Die ouer gebruik sy kind om in sy behoeftes te voorsien

4.  Gedisorganiseerde-kontrolerende binding:

Kenmerke:

  • Die kind het baie gekontroleerde gedrag
  • Hy ervaar nie konsekwente gedrag en aandag nie
  • Hy kan gedisorganiseerd optree as hy aandag benodig (raak veeleisend)
  • Hy kan egter ook verwese optree as hy aandag wil hê

Die ouer se optrede:

  • Die ouer het in die meeste gevalle self onopgeloste kindertrauma
  • Hulle is gepreokkupeer met hul eie onvoltooide stories
  • Hulle is nie bewus van hul kinders se behoeftes nie of reageer nie daarop nie

5.  Uitermatige kontak binding:

Kenmerke:

  • Die kind toon aggressie teenoor die moederfiguur
  • Hy toon ‘n groot behoefte aan sy portuurgroep
  • Raak geïriteerd met sy moeder se kontak met hom
  • Het ‘n groot behoefte aan onafhanklikheid
  • Is óf oormatig gehoorsaam óf rebelleer buite perke

Die ouer se optrede:

  • Die ouer oorbeskerm die kind
  • Die kind word oormatig vertroetel
  • Die kind se onafhanklikheid word ingeperk
  • Die ouer fluktueer tussen onderwerping aan die kind se behoeftes en dominerende gedrag teenoor die kind.

GEDRAG VAN KINDERS MET BINDINGSPROBLEME

Die meeste kinders met bindingsprobleme vetrou nie dat volwassenes hulle liefhet en hulle wil versorg nie.  Die volgende bindingsprobleme kan by die beskadigde kind voorkom:

Onttreking van interaksie

  • Maak swak oogkontak met ander
  • Onttrek homself van interaksie met ander
  • Onttrekking kan fisies (deins weg indien iemand hom aanraak) of emosioneel wees deurdat hy  “muur” om hom bou
  • Kan ook ‘n aanduiding van depresie wees

Kroniese Angs

  • Kan tot klouerigheid en besitlikheid ly

Ongediskiminerdende Affeksie

  • Gee aan almal drukkies en soentjies.  Daardeur sê die kind: “almal is ewe belangrik vir my – daar is niemand wat spesiaal is nie”
  • Sal saam met enige een huis toe gaan

Oorbekwaam vir sy ouderdom

  • Skep indruk dat hy nie ouers nodig het nie
  • Is té selfstandig en doen alles self – wanneer hulle hulp benodig sal hulle die pleegouers toestemming gee (of beveel) om hulle te help
  • Tree altyd perfek op

Gebrek aan Sefbewustheid

Dit wil voorkom asof sommige kinders baie bewus is van mense (se buie en gevoelens) in hul omgewing maar amper onbewus is van hul eie liggame se sensories sensasies.  Die volgende gedrag mag ‘n aanduiding wees dat kinders ‘n gebrekkige self-bewustheid het:

  • Kinders wat ooreet
  • Kinders wat geen pyn voel nie
  • Hulle ervaar nie warmte of koue nie
  • Maak bednat want hulle het nie besef hul blaas is vol nie
  • Kom slordig en vuil voor maar is onbewus daarvan.  Gee nie om hoe hulle lyk of aantrek nie

Selfbeeld Ontwikkeling Probleme

  • Kan nie ‘n behae vind in take wat goed voltooi is nie
  • Beshou homself as onwaardig
  • Voel hy beskik nie oor die vermoë om verandering tewee te bring nie
  • Vind dit moeilik om die lewe te geniet en “fun” te hê

Impuls beheer / Veg om in Beheer te wees

  • Toon min beheer oor homself en maak staat op ander om dit te voorsien
  • Toon gebrek aan vooruitsig
  • Swak aandagspan
  • Lae frustrasie drempel
  • Aggressiewe en hiperaktiewe gedrag mag ook voorkom.  Aggressie word soms gebruik om volwassenes op ‘n afstand te hou
  • Grense en gesag word heeltyd getoets a.g.v. wantroue
  • Wanneer hy voel hy is in beheer van ‘n verhouding, voel dit vir hom of hy beheer oor sy deurmekaar lewe het.

Twee tot twintig Sindroom

  • Tree met tye te oud vir sy ouderdom op en ander kere weer te jonk
  • Verkies aktiwiteite van ouer kinders en wil in beheer wees
  • Sodra hy beperk word, tree hy op met woedebuie en trane soos ‘n kind van twee

Vertraagde Gewete Ontwikkeling

  • Vertel leuens (selfs oor klein onbenullighede) en steel
  • Toon geen angs of skuld indien hy hom aan wangedrag skuldig maak en uitgevang word nie
  • Toon ook nie ‘n gevoel van skuld of berou wanneer reëls oortree word nie
  • Blameer ander dikwels
  • Leer nie uit ervaring nie
  • Kan nie duidelik tussen reg en verkeerd onderskei nie

Kognitiewe Probleme

  • Ervaar probleme met oorsaak en gevolg
  • Ondervind probleme met logiese en abstrakte denke – leerprobleme kan op skool voorkom
  • Verwarrrende denkprosesse mag voorkom
  • Het probleme om vooruit te dink
  • Hul tydsbegrip mag ook swak wees
  • Mag ook Aandag-gebrek-versteuring hê

Ontwikkelingsprobleme

  • Mag probleme ondervind t.o.v. ouditiewe prosessering
  • Ondervind dit moeilik om homself verbaal uit te druk
  • Kan probleme met growe motoriese vaardighede hê
  • Mag agterstande t.o.v. die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede hê
  • Mag probleme ondervind t.o.v. agterstand m.b.t. persoonlike-sosiale ontwikkeling

Interpersoonlike Interaksie

  • Projekteer sy pyn op die pleegouers – veral die moeder figuur kan verwerp word a.g.v. sy wantroue dat volwassenes in sy behoeftes kan voorsien
  • Vereis affeksie maar daar is ‘n gebrek aan diepte in verhoudings
  • Demonstreer “vyandige – afhanklikheid”
  • Beskik nie oor sosiale volwassenheid nie

Gebrekkige Emosionele Belewenisse

  • Sukkel om sy eie gevoelens te herken
  • Ondervind probleme om gevoelens (veral woede, hartseer en frustrasie) toepaslik uit te druk
  • Ondervind probleme om ander se gevoelens te herken

Gedragsprobleme

Gedragsprobleme ontstaan a.g.v. gevoelens van angs, vrees, woede en eensaamheid.  In sommige gevalle is dit egter die gewete wat nie ontwikkel is nie (vb steel) en in ander gevalle is dit gedrag wat aangeleer is (vb klaery, seksueel uitreagerende gedrag, irriterende gewoontes).  Gedrgsprobleme kan ook voorkom a.g.v. bindingsprobleme.

Algemene probleme wat by kinders kan voorkom:

Probleme t.o.v. Angs: (Afskeiding van adrenalien)

  • Nagmerries / Night Terrors
  • Bednatmaak
  • Enurese (bedags)
  • “weet nie” sindroom
  • Klouerigheid
  • Valse glimlag (versteek innerlike angs)
  • Self beseer – hare uittrek, stukkend krap, naels byt

Probleme t.o.v. Vrees: (Gedrag kan aangeleer word)

  • “Te goed” Sindroom
  • Bekommerd oor klein beserings
  • Oormatige mastrubasie
  • Nagmeries / Nigh Terrors
  • Gaar kos op

Onderdrukte Woede:

  • Enkoprese
  • Destruktiewe gedrag
  • Weglopery

Eensaamheid:

  • Oormatige mastrubasie
  • Weglopery
  • Gaar kos op

Negatiewe aangeleerde gedrag:

  • Klouerigheid
  • Seksuele uitlokkende gedrag
  • Huilerigheid / aanhoudende klaery of “whining”

Gewete wat nie ontwikkel is nie:

  • Stelery
  • Leuens vertel

TAAK VAN DIE PLEEGOUER

Liefde, dissipline en die korrekte hantering van die gedragsprobleme is nie genoeg om die kinders te laat ontwikkel in goedaangepaste volwassens nie.

Die pleegouers moet bewustelik aandag gee aan die volgende:

  • Kalmering van die limbiese sisteem ten opsigte van trauma
  • Hantering van die kind se emosies
  • Binding tussen pleegouer en die kind

1.  Kalmeer die Limbiese Sisteem:

Die limbiese sisteem wat oorsensitief geraak het as gevolg van die trauma, moet gekalmeer word.  Voordat dit nie gebeur het nie, gaan die kind nie regtig besef dat die trauma verby is nie.  Om die kind te kan help, moet die kind die belewenis hê dat die limbiese sisteem beter gereguleer word.  Hierdie aktiwiteite bevorder ook binding.

Vashou en Vertroetel op die skoot:  Hou die kind elke dag vir so lank as moontlik net rustig vas op die skoot.  Lê by die kind in die bed in die aande en hou die kind vas.  Hierdie kinders moet meer vasgehou word as wat jy normaalweg ‘n kind op jou skoot sou hou.  Vashou gee sekuriteit en reguleer die kind se asemhaling.  (Kinders wat getraumatiseer is, haal vlak asem).

Wieg die Kind:  Hou die kind in jou arms vas en wieg saggies van lings na regs en ook van voor na agter.  Sing ‘n slaapliedjie of vertel ‘n rustige storie in ‘n kalmerende stemtoon.  Wieg terwyl julle na herinneringe (foto’s of tekeninge) van die slegte ervaringe kyk of terwyl die kind vir jou vertel van sy vorige lewe.  Die kind kan selfs ‘n bottel of ‘n fopspeen kry om te suig.  Wieg ontspan die liggaamsensasies en versterk die gevoel van veiligheid.  Dit help ook vir die ontwikkeling van die Corpus Callosum.

Laat die Kind homself Wieg:  ‘n Wiegstoel is hier ideaal, maar die kind kan ook net aangemoedig word om saam met jou heen en weer te wieg, terwyl julle dalk ‘n liedjie sing of na rustige musiek luister.  Gee vir die kind ‘n sage speelding of kombersie om vas te hou.  Positiewe effek is soos hierbo genoem.

Voer die Kind daagliks:  As dit ‘n kleuter of ‘n jong laerskoolkind is, voer die kind gereeld in die eerste paar maande.  Met ouer kinders kan jy ‘n ooreen-koms maak dat hulle een keer per dag moet eet asof hulle ‘n baba is (sagte kos soos pap of roomys) met ‘n teelepeltjie en soos toe hulle ‘n kleuter was (klein blokkies of repies vleis, groente en vrugte) met hulle hand.  Voeraktiwiteite help die kind om emosioneel op te vang op bemoedering en om die Limbiese Sisteem te kalmeer.

Maak Oogkontak:  Die bevordering van die kind se oogkontak is baie blenagrik.  Speel speletjies wat oogkontak aanmoedig en vra die kind om vir jou te kyk as jy met hom vriedelik praat (nie as jy vir hom kwaad is nie).  Oogkontak is veral effektief as die kind op jou skoot sit en jy hom wieg.  Vriendelike, liefdevolle oogkontak verhoog die kind se bewustheid van ander mense en bevorder die gevoel van veiligheid omdat dit die Limbiese Sisteem kalmeer.

Asemhaling:  Leer die kind om diep en kalm asem te haal en doen gereeld asemhalingsoefeninge.  Diep asemhaling kalmeer die Amygdala.

LinkerRegter brein Kommunikasie:  Speel speletjies waar die kind regs en liks moet beweeg of skakel die kind in vir ‘n Breingymprogram.  Dit bevorder die ontwikkeling van die Corpus Callosum en help ook die kinders wat leerprobleme ervaar.  (‘n Nuttige boek om aan te skaf is “Braingym for all” deur M. De Jager).

Terapie:  Skakel die kind in vir terapie om die trauma deur te werk en om leiding te kry van hoe om die kind se emosieonele probleme te hanteer en binding te bewerkstellig.  Terapie help met die ontwikkeling van die Limbiese-Frontale lob patrone.

2.  Die Hantering van die Kind se Emosies

Dit is baie belangrik dat pleegouers leer hoe om die pleegkind se emosies op te vang en “vas te hou” (“containment”).  Wanneer emosies erken word en toegelaat word stel dit die kind in staat om negatiewe emosies uit te bring en dit te verwerk.  Die kind leer ook om sy emosies te aanvaar, daaroor te dink en dit nie op ander uit te haal deur woedeuitbarstings of negatiewe gedrag nie.

Baie mense het egter ‘n “non-containment” reaksie op intense emosies van ander mense.  Ons wil so vinnig as moontlik pynvolle emosies weg hê en die persoon wat die emosies ervaar gelukkig maak.  Die volgende “non-containment” response is algemeen:

Die Sif-Respons:  Die kommunikasie of uitdruk van emosie gaan soos water deur ‘n sif regdeur die luisteraar, omdat hy oorval word met angstige gevoelens, omdat hy nie weet hoe om die emosies te hanteer nie.  Dit is ‘n passiewe reaksie op emosies.

Die Vadoek-Respons:  Die kind se pynlike gevoelens word weggevee – “dit is nie so erg nie, vergeet van dit, jy sal môre beter voel”

Die Spons-Respons:  Die emosies van die kind word opgetrek soos water in ‘n spons en die persoon absorbeer die kind se gevoelens.  Die gevolg is dat die persoon nie die kind kan ondersteun nie.

Die Asblik-Respons:  Die pynlike emosies word weggegooi – “moenie so voel nie, dit is verkeerd om so te voel”

Die Klipmuur-Repons:  Daar is geen reaksie nie, die negatiewe emosies word geignoreer.

In “containment” sal die persoon na die emosies luister en nie angstig raak om dit te hanteer nie.  Die hantering is om oor die emosies te dink en ‘n meer hanteerbare vorm aan die kind terug te gee, met die boodskap van “ek vertaan”,” jy kan maar so voel, ek sou ook so gevoel het as ek in jou skoene was”.

3.  Die Bevordering van Binding

Die pleegouer moet aktief werk aan binding.  Binding vind plaas deur:

  • TYD saam met die kind te spandeer
  • AANDAG aan die kind te gee wanneer hy dit benodig
  • Sy emosionele- en fisiese BEHOEFTES te bevredig

Die positiewe interaksie sirkel:  Die pleegouer reik uit na die kind en inisieer positiewe interaksie (soos speletjies met die kind, lees vir die kind, vetroetel die kind, ens.) Die kind reageer positief daarop.  Omdat dit vir beide positief is, sal beide daarmee volhou.  Die klem is hier op die inisieering van positiewe interaksie en nie net as reaksie op die kind se gedrag nie.

Benut sterk emosies en uitbarstings vir binding:  Na ‘n uitbarsting of belewenis van sterk emosies, is die kind se verdedigingsmegnismes laag en is hy meer oop vir binding met die persoon wat dan liefdevol en vertroetelend teenoor hom optree.  Die kind bou makliker vertroue op as die ouer vir hom daar is na emosienele uitbarstings.

Deel agtergrond met mekaar:  Die pleegouers deel hulle verlede met die kind wat ook die openheid vir die pleegkind skep om sy verlede met die pleegouers te deel indien hy gereed is.  Dit is egter belangrik dat die ouers nie die kind moet uitvra nie.  Wanneer die kind egter gereed is om te praat is dit goed dat hulle aangemoedig word om oor sy verlede te praat.  Pleegouers reageer deur van reflekterende luistertegnieke gebruik te maak.  Die pleegouers kan die maatskaplike werker ook help deur terugvoer te gee oor die onthullings aangesien hulle gewoonlik nie bewus is van alles wat met die kind gebeur het nie.  Die kind se verlede kan in terapie dan verder deurgewerk word.

Aanleer van nuwe gedrag:  Moedig die kind wat nie van fisiese kontak hou nie, aan om op ‘n speelvolle manier te “oefen” om liefdevol te wees, bv. Gee drukkies, sit op die pleegouers se skoot, gee soentjies met slaaptyd, ens.  Hulle kan geleidelik leer om gemaklik te raak met fisiese vertroeteling.

Speel met die kind:  As daar tyd aan die kind gespandeer word deur met hom te speel en die ouer se volle aandag by die kind is, beleef die kind dat hy spesiaal is en vertrou makliker en dit bevorder binding.

TEN SLOTTE:

Dit is belangrik om te onthou dat onverwerkte trauma, onderdrukte emosies oor die verlede en onvoltooide rou die bindingsproses negtief beïnvloed.  Terapie mag nodig wees om eersgenoemde aspekte aan te spreek voordat daar regtig binding kan plaasvind.  Pleegkinders kan geheg voel aan die pleegouers omdat hulle van hulle hou en veilig voel daar, maar dit is nie noodwendig binding wat plaasgevind het nie.  As binding nie gevestig is nie, sal die kind waarskynlik in sy tienerjare met gedrags-probleme presenteer.

VITAMIEN EN ANDER AANVULLINGS VIR KINDERS WAT VERWAARLOOS EN GETRAUMATISEER WAS

Multi-vitamien

As gevolg van swak voeding, het pleegkinders dikwels vitamien tekorte in hulle sisteem.  Dit is van groot waarde om die kind se dieet vir ten minste die eerste 6 maande met ‘n goeie multi-vitamien aan te vul.

Omega 3, 6 & 9

Die omega-olies is noodsaaklik vir die “mylination” proses in die brein.  Dit bevorder die kind se fisiese gesondhied, maar is veral belangrik vir breinontwikkeling en emosionele gesondheid.  Die omega-olies word hoofsaaklik van olie-ryke vis en sade verkry.  Die meeste kinders het ‘n tekort aan omega 3 & 6 in hulle diet en pleegkinders het jare se tekorte wat hulle ontwikkeling benadeel  het.  Aanvulling van Omega 3 is belangrik en dan ook in groot dosisse:

1-2 jaar                =          175mg per dag

3-4 jaar                =          250mg per dag

3-6 jaar                =          300mg per dag

7 jaar en op          =          350 mg tot 600mg per dag

Produkte soos Eye-q en ADDAway word sterk aanbeveel.

Glutamine

Glutimine vul die Gamma Amino-Butyric Acid (GABA) in die brein aan.  Dit is ‘n noodsaaklike neurotransmitter in die brein wat nodig is vir normale breinfunksies.  Mense met tekorte aan GABA lei aan angs, konsentrasieprobleme, depressie hyperaktiwiteit, frustrasie en woedebuie.  Glutamine aanvulling is met uitstekende resultate op pleegkinders getoets en word sterk aanbeveel as ‘n noodsaaklike aanvulling.  ‘n Betroubare aanvulling van glutamine is Glutamag.

Anti-depressante

Kinders wat baie getraumatiseer is of baie intens rou oor hulle biologiese ouers het soms ernstige depressie en anti-depressante mag nodig wees om die kind te help om deur die trauma en die skeiding van die ouers af te werk.  ‘n Kinderars of kinderpsigiater moet verkieslik geraadpleeg word vir die nodige anti-depressante.  Anti-depresssante help om die neurotransmitter in die brein te herstel wat die kind kan ondersteun om emosioneel te hertstel.

Deur:  Magriet Van Schalkwyk  (Privaat Maatskaplike Werker)

4 Responses to Dis Kritiek om Binding te bewerk met jou Veiligheids- Pleegsorg Kind!

  1. Corrie says:

    Hi Heloise
    Glo dit gaan goed.
    Ek benodig ook bietjie raad namens ‘n vroutjie wit se 2 kinders op ‘n baie jong ouderdom en op ‘n onwettige manier in pleegsorg geplaas was. Die persoon het haar ‘n brief laat oorskryf (hulle het die oorspronklike brief geskry) en gese dat dit hulle toestemming gee om haar wettig met die kinders te help en dat dit ook sal keer dat die Welsyn die kinders wegvat.
    Om ‘n lang storie kort te maak, die vrou wat die kinders toe ingeneem het kon nie altwee hanteer nie en het die oudste seuntjie in ‘n kinderhuis gesit. In die kinderhuis is hy gemolesteer. Na ons haar by ‘n prokureurs firma gekry het het die hof besluit dat sy die kinders 2 keer ‘n maand kan bel en 1 keer ‘n maand kan sien.
    Die jongste se pleegouers het nou ver weggetrek, die oudste sin is nie baie ver van waar sy bly nie.
    Wanneer sy skakel om met hom te praat , word die oproep nie eers beantwoord nie. wanneer hulle wel antwoord word daar gese die kind speel of slaap.
    Begin van 2016 het hulle bemekaar gekom (die oudste se pleegouers) by ‘n CMR kantoor en wou die pleegouers he sy moet haar kind afteken. Voor sy gegaan het het ons haar vertel dat sy niks moet teken nie.
    Vandag 20/04/2016 het ons een van CMR se mense in die hande gekry (daar was herhaalde oproepe gemaak en gevra dat sy asb moet terugskakel – dit het nie gebeur nie ) na daar vanoggend gese is dat ons die Bestuurder oor Kindersorg gaan kontak is die oproep terug gemaak.
    Daar word nou gese dat die kind weier om met sy Biologiese ma te praat – waar daar voorheen geen problem was nie. Die ma se hart is stukkend. Sy wil nie haar kind wegvat van die pleegouers nie sy wil net kontak met hulle he.
    Wat staan haar te doen?
    Seeninge vorentoe met die werk wat julle doen, Kinders is ‘n wonderwerk geskenkie uit ons Hemelse Vader se hand.
    Corrie.

    • According to the Child’s Act 180-190 of Law 38/2005 Biological parents retain the right to have reasonable access to their children in foster care.

      She will have to make an appointmeny with the manager of the social services that dealt with the foster placement and discuss the situation with her. She can also make an appointment with, and discuss the situation with a Family Advocate at the Children’s Court. On 20 Apr 2016 3:12 PM, “Foster Care in South Africa” wrote:

      >

  2. brenda pretorius says:

    Goeie dag. Ons het n dogtertjie van 4jr in pleegsorg al vir 4 maande. Dit gaan baie moeilik omdat daar nog nie aanvaarding van haar na ons of van my na haar was nie. Sy was gemolesteer en is baie gepla met geslagsdele veral mans s’n en dit freak my uit. Sy speel met haarself en ons hond en moet ek gereeld dophou tussen ander kinders ook. Die groot probleem vir my is ook dat ek en my man 10jr alleen was en dit voel of sy my plek vat. Ons het dit al bespreek ook en is tans by n sielkundige vir hulp. Op die stadium voel ek negatief oor haar en voel dis beter dat ons haar teruggee want ek cope nie hiermee nie. Dr het my al op anti-depressante en kalmeerpille. Ek is depressief en baie ongelukkig in my lewe op die stadium. Is dit normaal of is die fout by my?

    • Goeie middag. Sjoe ek het BAIE simpatie met dit waardeur jy gaan, en WEET asseblief dat dit regtig normaal om so te voel.
      Ek wil jou vreeslik graag help. Wat ek nie uit jou skrywe kan uit uitmaak nie is: 1) Deur wie pleeg julle? 2) Was julle nie vooraf voorberei op haar seksueel uitlokkende gedrag, en hoe om dit te hanteer nie? 3) Het jy al ‘n EERLIKE gesprek met julle Maatskaplike Werker gehad oor die realiteit van die situasie? Hulle WIL ons as pleegouers bystaan om ‘n sukses van die plasing te maak. Dit is een van hulle funksies om seker te maak dat ‘n seksueel gemolesteerde kind vir terapie inskakel, ens.
      Asseblief laat weet my …

Leave a Comment /or Share your Foster Care experience

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s